Ons Storie

Tuis

Ons Storie

Kontak ons/Tariewe

Foto’s

Kaart/Aanwysings

Reëls en Regulasies

ONS STORIE...

Op die plaas Goedehoop, ongeveer 20km buite Heidelberg, Wes-Kaap, is die Noukrans Boskamp geleë. 

En dis HIER waar jy jou skoene uitskop, die vuur aansteek en net vergeet van werk, verkeer, gejaagd wees en verantwoordelikhede.  Jou selfoon kan jou nie pla nie, so wees gerus as jy jou laaier tuis vergeet het…

Bring jou eie tent, karavaan of boswa, kom kies jou staanplek tussen honderde akkerbome (waarvan die oudstes geplant is in die 1920’s) en maak seker dat jy ‘n pragtige uitsig het!

Ons droom is om ons stukkie “hemel op aarde” met ander natuurliefhebbers te deel.

 

Hier is gesamentlike ablusiegeriewe vir ongeveer 10 staanplekke (ons beheer die aantal gaste wat op een slag hier bly.)  Warm sowel as koue water is beskikbaar by die storte en opwasgeriewe.  Verder is hier geen elektrisiteit nie - slegs sonpanele wat gebruik word vir ligte. 

Die toilette en storte se water is skoon (bruin) rivierwater.  En vars (wit) drinkwater (reën- of fonteinwater) is uit die tenke beskikbaar.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Op hierdie werkende melkplaas kom familie, natuur en diere altyd eerste.  Jy sal dalk trekkers hoor en sien, troppe beeste wat wei of aangejaag word.  Die skape langs die pad sal jou laat verlang na Oupa se plaas waar jy vakansies kettie geskiet en kleilat gespeel het.

Vir die “stadsjapies” kan ‘n toer na en deur die melkstal gereël word, en kinders kan die kalfies kom help melk gee.  (Vra net asseblief watter tye geskik sal wees.) 

As jy vroegoggend of laatmiddag die veld wil aandurf is daar verskeie rigtings om in te stap.  Met die “Noukrans” as die mees betowerende bestemming.  Die brawes kan net na sonsopkoms wegtrek en by die waterval uitkom na ongeveer 5 ure se stap en swem.  Die ander kan by die eerste poele stop en daar voete natmaak en rustig wees.

In ‘n ander rigting sal jy die rivier, waarvan die oorsprong uit Noukrans kom, vind en daarin kan jy ook voete natmaak en ‘n klippie optel vir jou ‘memory-box’ by die huis.

As jou energie nog nie uitgeput is nie, is daar verskeie berge met gemaklike staproetes wat jy kan aandurf.  Daar is geen skoongemaakte wandelroetes om te stap nie, maar jy kan die voertuigpaaie volg of jou eie pad vind – onthou net jou pad vir die terugkom!

Ongeveer 8 km verder is:

· Die begin van verskeie bergfietsroetes, Aileen Anderson kan daarvoor gekontak word. 

         www.gvbconservancy.co.za

· Honeywood Farm - kontak vir John Moodie

     http://www.honeywoodfarm.co.za/

· Grootvadersbosch Natuurreservaat wat ekstra staproetes het asook die grootste “Redwood” bome tans in SA.

     www.capenature.co.za/reserves/grootvadersbosch-nature-reserve/

 

Vir die voëlkykers het ons goeie nuus!  Tydens Augustus en September 2017 het verteenwoordigers van die  Suider-Afrikaanse Voëlatlasprojek 'n totaal van 78 verskillende voëlspesies op ons plaas en omliggende areas waargeneem.  Daar is  meer daaroor te lees op die SABAP2 (Southern African Bird Atlas Project 2) se webwerf by http://sabap2.adu.org.za/

Op vooraf bestelling kan jy met jou aankoms ‘n vars gebakte plaasbrood, plaasbotter, vars plaasmelk en ook jou keuse van tuisgemaakte konfyte en beskuit ontvang.  Ons het ook ys, en soms braaihout en gevriesde braaivleis beskikbaar – doen asseblief vooraf navrae rakende die bestelvorm en beskikbaarheid. 

 

Text Box: Ons is OOP!!!